Loading...
Wie’s Ons? 2017-06-17T13:05:32+00:00

GESTIG DESEMBER 2004

WIE’S ONS? WAAR HET DIT BEGIN?

Vroeg in Desember 2004, het Niël du Bois en ‘n aantal werkers/vriende met Brolloks, sy Chev-lorretjie van 1950, hooggelaai met planke, toue en nette op Mosselbaai opgedaag – om na dekades as joernalis en media-adviseur, sy vrye gees uit te leef en ‘n seekos-eetplek êrens op ‘n strand oop te maak.

Met die Genade van Bo (en te danke aan ‘n munisipale amptenaar of twee wat die visie van ‘n seekos-eetplek op die strand gedeel het) is die eerste De Vette Mossel staangemaak, die deure spreekwoordelik oopgegooi en ….die eerste gaste het opgedaag…en opgedaag…en opgedaag…

Te danke aan volgehoue en gewaardeerde ondersteuning van nuutgevonde Mossel-vriende, het De Vette Mossel gegroei en gegroei.

By De Vette Mossel @ Parys sal jou gasheer en vrou, Johan en Karin Visser, jou tone laat omkrul van plesier!

Parys was nog altyd hul toevlug weg van die gejaagde stadslewe. Hulle volg net soos Niël ook hul droom en het ‘n kleinhowe by Parys gekoop en sak en pak soontoe getrek. En dit is hier waar hulle ‘n eie stukke seeparadys het – De Vette Mossel @ Parys.

Die braaiers, skoonmakers en kombuispersoneel (die meeste is van die begin hier) is ‘n storie op sy eie. Net werklose mense is aangestel, opgelei en vandag is hulle onlosmaakbaar deel van De Vette Mossel-familie. Sonder hulle is De Vette Mossel nie moontlik nie – daarom dat hulle ook in die winste/vrugte van sukses deel.

Niël self kom kuier gereeld om ook 100% seker te maak dat De Vette Mossel@Parys identies aan die visie van De Vette Mossel restaurante wat konsep, menu en kwaliteit betref, en sodat mielies nie dalk skielik op die spyskaart verskyn nie!